Hoe potty train mens ‘n janfrederik?

janfrederikNee, dis nie ‘n retoriese vraag nie. Ja, ek gee toe dit is effe antropomorfies. Maar dit is nou so dat daar ‘n janfrederik is wat baie tuis geraak het in my huis. Báie tuis. Om die waarheid te sê, só tuis dat hy nie skroom om sy nommer twee’s mildelik op oppervlakke te laat wat in goeie geselskap veronderstel is om antibakteries skoon te wees nie. Soms, in ‘n oomblik van swakheid, vermoed ek selfs dat dít eintlik die doel van sy huisbesoeke is. Ander kere egter, lyk dit meer of hy op inspeksie is – stap gang af en loer by elke kamer in. Hy sou maklik fout kon vind; mens kan nou nie juis van my vloere af eet nie.

Dit is nie dat ek iets teen die janfrederik het nie, inteendeel, ek vind dit heel lief dat hy die vrymoedigheid aan die dag lê om oor die drumpel van my humble abode te vlieg. En dit boonop doodsuitdagend weens die teenwoordigheid van ‘n bedônnerde brak, ‘n bejaarde kat en ‘n paar stuks luidrugtige, inwonende ronnekoptweebeniges (van die subspesie homo sapiens sapiens), waarvan sommige – nie almal nie – verwant is aan my.

Wanneer ek hom terloops raakloop en baie vriendelik na sy welstand verneem, word ek ewe kordaat ‘n snawelvol toegevoeg. Aangesien ek nie Janfrederikaans magtig is nie, kan ek nie met sekerheid sê of die strekking daarvan vriendelik of vyandig is nie. Op die oor af klink dit vrolik, en GA Watermeyer se versreëls kom by my op:

Ek kelk die sonlig in my keel
en rym die rondebessie ryp;

maar ek krimp ineen as die digter voortgaan:

met kinderhand het hy, het hy
die fluite uit ons bors gegryp.

Met hierdie erfskuld wat swaar op my gewete lê, salueer ek die dapper, slim, oorrompelende klein voëltjie – MAAR… is daar énigiemand wat weet hoe potty train mens ‘n janfrederik? Êrens? Iemand?

Rooikappie in die bos

kappieLank, lank gelede was daar ‘n dogtertjie… ja-ja, dis hoe sprokies begin…

Nietemin. Die dogtertjie was Rooikappie. Ja, dáárdie Rooikappie. Haar mammie het vir haar ‘n padkaart gegee (steeds lank, lank gelede) van die régte en énigste pad deur die bos om veilig by Ouma te kom. Sy mog nie links of regs van dié pad afwyk nie.

Sy het dus altyd, sonder om te weifel of te twyfel, sonder om te vra of te wonder, op hierdie paadjie deur die bos gestap. Want dit was die opdrag wat sy by haar mammie gekry het en dié weer by háár ma, en so terug tot by oerouma Eerste Rooikappie (daardie moedersknie-ding). Die opdrag was duidelik: moenie links of regs kyk nie, moenie jou eie planne maak nie, moenie dink nie – daar is mense wat klaar gedink het en wat wéét. Bly net op hierdie régte en énigste paadjie en wyk nie ‘n tree daarvan af nie, want daar is ‘n nare wolf wat jou op ‘n dwaalweg wil stuur, die uiteinde waarvan jy nie eens wil bedink nie. Daar is sprake van ‘n gruwelike heks met ‘n yslike kookpot op ‘n vuur wat nooit uitbrand nie. Rooikappie was báie bang vir die heks. Én vir die wolf. Daarom het sy sing-sing en huppelend op die énigste en régte paadjie gebly.

So het Rooikappie vir haar klein Rooikappietjie die padkaart aangegee, en klein Rooikappietjie het dit weer vir haar klein Rooikappietjietjie gegee, en… en…

Saam met die geslagte Rooikappies het die tyd ook aangestap en mense het waagmoediger en dalk koppiger geword en party het dit selfs gewaag om bietjie rond te kyk en luister. So het van hulle vir Jan ontmoet. Jan het vir hulle ‘n wonderlike storie vertel van hoe hy ‘n towerboontjie geplant het en dié boontjie het gerank en gegroei vir ‘n vale tot hoog bo die wolke. Jan het teen die boontjierank opgeklim en toe hy hoog genoeg was, kon hy dwarsoor die hele bos kyk. En wat Jan toe te vertelle gehad het, het sommige mense verstom gelaat, sommiges se vermoedens bevestig en ander se ore laat toeslaan: daar was báie paadjies deur die bos. Party van hulle was selfs korter as Rooikappie se paadjie. En ja, almal het by Ouma se huis uitgekom. Van die nare wolf en die gruwelike heks was daar geen spoor nie.

Toe Rooikappie LXXXIV dit vir haar ma vertel en voorstel dat sy volgende keer dalk ‘n korter paadjie vat, was die antwoord: volstrek nié. Hierdie Jan is niemand anders as die nare ou wolf in mensgewaad nie – waar het jy al ooit gehoor van ‘n boontjie wat so hoog kan rank? En dan nog sterk genoeg dat mens daarteen kan opklim? Moenie jou ore uitleen nie. Daar is nét één régte pad.

Die einde.