Nog winkelstories

‘n Plaaswinkel is ‘n lewende organisme. Met ‘n lyf en ‘n siel. Tierfontein se siel was ou Pa, oftewel Baas Ben, Van, ou Vênnie. Toe die siel ná ‘n beroerte nie teruggekom het nie, het die lyf stadigaan gekwyn, ten spyte van krampagtige pogings tot resussitasie deur dié wat agtergebly het. Tierfontein se plaaswinkel bestaan nie meer nie, maar die stories lê nog vars in die voue van ons onthou.

Kersfees en die einde van oestyd was hoogseisoen vir die winkel. Dan het die boere langs die rivier hulle hele werksmag gestuur vir geborgde inkopies. Dit was ‘n malle miernes en elke moontlike paar hande is ingespan – die hele gesin, familie van die buurdorp, vriende van die omgewing.

Ons het die Sothobenamings van die basiese benodigdhede goed geken, maar soms het iets só vreemd geklink dat die brein sy eie ore nie kon glo óf verstaan nie. So vra ‘n vrou op ‘n keer vir ‘n botties. Ek het hiernatoe en daarnatoe gedink en moontlikhede geopper, sonder sukses, totdat sy die dom wit kind uit radeloosheid reggehelp het met: Hau, ek soek die dênges van die tietie!

Daar was min dinge wat mens nié by Tierfontein se winkel kon kry nie. Onder andere was daar van die ou 78-spoed langspeelplate, hoofsaaklik met musiek wat in die Sotho-smaak geval het, kompleet met ‘n ou draagbare grammofoon sodat mens darem kon luister voor jy koop. Dié keer het dierbare oom Gerrit agter die toonbank gehelp en kom hy met sy gesig die ene verwarring vra of ons dan ook plate het met psalms en gesange want iemand het nou net gevra vir Psalm 4. Nee, daar was nie plate met psalms en gesange nie; wat die persoon éintlik gesoek het, was Lennon se Balsem Sulphuris.

Dan was daar die doodskiste in die stoor – nodige items, want dit is nou maar so dat mense dood raak. Tog het mens soms gewonder oor die ontydigheid van die grim reaper. Want menige keer het iemand op Kersdag ‘n kinderkissie kom soek. Ons het deur die kombuisvenster in die aangrensende woonhuis staan en kyk hoe die kissie op ‘n bakkie of perdekar gelaai word. ‘n Woordelose weemoedigheid het vir ‘n wyle soos ‘n sagte aanraking oor die plaaswinkel en die woonhuis, die stoor en die werf kom lê.

As ek daardie tyd geweet het van David Kossoff, sou ek waarskynlik saam met hom gewonder het:

A thought occurs, Lord – please, another minute?
And it’s not (believe me) a criticism.
It may be that in the running of your
‘ways and plans’, the ‘selection for
death’ is done by a special
department up there,
Trained personnel; specialists;
Leaders, who go away on courses.
Well, could they, do you think, be
getting out of hand?
Doing things without your initial?


I bring this up, Lord,
Because every now and then, let met tell
you, although I’m sure I’ve already
made the point,
It doesn’t make too much sense.


Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.